Brief aan Gemeente – 2020-09-24
Goeiedag Noorderligters
Hoop dit gaan goed met elkeen. Dankie vir almal se geduld die afgelope ses maande en die ondersteuning van ons digitale bediening.
Die Dagbestuur het op die laaste vergadering van 17 September 2020 steeds die publikasie van die Staatskoerant afgewag vir die nodige reëls en regulasies oor vlak 1 inperking. Daarom het ons besluit om eers teen November 2020 met fisiese eredienste te begin.
Daar word ook steeds van elke instansie (insluitend kerke en gemeentes) verwag om ’n skriftelike plan te hê wat al die maatreëls uitspel om ’n veilige afstand tussen mense te handhaaf en aan gesondheidstandaarde te voldoen. Elke gemeente moet ook ’n spesifieke persoon as voldoeningsbeampte (compliance officer) aanwys, en hierdie persoon is in die besonder daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat die gemeente se gesondheidsplan nougeset nagekom word.
Die reëlings is natuurlik alles onderhewig aan die grootte van die kerkgebou of fasiliteit waar eredienste gehou word, want die getal teenwoordiges mag nooit meer as 50% van die gebou se kapasiteit oorskry nie en mense wat nie in dieselfde huis bly nie, moet steeds minstens 1.5m van mekaar sit. Met inagneming van hierdie voorsorgmaatreëls en die feit dat ons eredienslokaal klein is, sal ons net 25 mense per erediens kan huisves. Die digitale uitsendings van ons eredienste sal egter voortgaan.
Gemeenteaktiwiteite soos Bybelstudie, kategese en wyksbyeenkomste kan ook nou hervat word solank die nodige voorsorgmaatreëls gerespekteer word. Hoewel die regulasies dit nie uitdruklik uitspel nie, lyk dit nie of daar steeds van gemeentes verwag word om by elke byeenkoms volledig presensie van die teenwoordiges te hou nie.
Predikante en ampsdraers mag lidmate nou met die lidmate se instemming tuis besoek, maar moet steeds maskers dra, ’n veilige afstand handhaaf en die nodige reinigingsmaatreëls toepas. Tensy daar nuwe regulasies uitgevaardig word, lyk dit egter of ouetehuise en hospitale ampsdraers en familie steeds nie sal toelaat om daar besoek af te lê nie.
Julle is welkom om my te skakel indien julle verdere inligting benodig of sekerheid oor ons byeenkomste wil hê.
Groete en beste wense.
Dr. Johan Bester
082 455 1636
1 Response to “Brief aan Gemeente – 2020-09-24”