Kennisgewing aan Gemeente
Die kerkraad het op 7 Februarie 2021 ‘n virtuele kerkraadsvergadering gehou. Die vergadering is deur middel van die “Google Meet” platform gehou en dit het goed afgeloop. Dit was dan ook die 1ste virtuele kerkraads vergadering. Die Finansiële Komitee het wel verskeie virtuele vergaderings gehou gedurende die afgelope jaar van COVID-19 inperkings.
Die kerkraad het besluit dat die in persoon eredienste vanaf 14 Februarie 2021 hervat word. Die algemene voorsorg maatreëls soos deur die regering vereis moet egter steeds streng nagekom word. Daar is besluit dat die toekomstige staking en voortgaan van in persoon eredienste, soos van tyd tot tyd deur die regering bepaal mag word, nagevolg sal word.
Verder is dit nodig dat die wanopvatting wat bestaan dat lidmate ouer as ‘n sekere ouderdom verbied word om in persoon eredienste by te woon uitgeklaar word. Geen lidmaat word beperk of verbied om in persoon eredienste by te woon op grond van ouderdom nie. Lidmate met onderliggende siektetoestande, asook lidmate 60 jaar en ouer, word egter aangeraai om eerder tuis in die virtuele eredienste te deel. Dit is ook die regering se amptelike aanbeveling.
Die rolbalsaal se ventilasie is nie optimaal nie en die inperkingsregulasies beperk die erediens bywoning tot maksimaal 50 persone of maksimaal 50% besetting van die lokaal. Daarom is dit nodig om die aantal lidmate wat die eredienste wil bywoon te beperk. Vir die 50% lokaal besetting word die gemeente beperk tot ‘n aantal van 25 persone in totaal soos bepaal deur die beskikbare vloerspasie en die gemeente se goedgekeurde COVID-19 gebeurlikheidsplan. Met die in persoon eredienste tot op datum was hierdie maksimum nog nie bereik gewees nie. Die kerkraad en die aangestelde COVID-19 taakspan is verantwoordelik vir die uitvoering van die gebeurlikheidsplan en lidmate word versoek om dit te ondersteun.
Lidmate word versoek om weekliks vroegtydig met Ouderling Erens du Preez te bevestig dat hulle die erediens wil bywoon. Die nodige voorgeskrewe dokumente moet ook dan voltooi word sodat kontak nasporing gedoen kan word. Lidmate moet besef dat die erediens bywoning op eie risiko plasvind. Die koster sien toe dat die nodige skoonmaak prossesse voor en na eredienste gevolg word. Hand sanitering met die toegang tot die erediens lokaal word ook gehandhaaf. Maskers moet heeltyd tydens u bywoning gedra word. Geen koffie of tee word voor of na die erediens bedien nie. U mag u eie water saambring vir gebruik, maar bottels en glase mag nie gedeel word nie.
Die virtuele eredienste word volgehou deurdat die in persoon eredienste lewendig vanaf die perseel uitgesaai word. Ons bedank graag vir Dr Bester en al die ander persone wat hierdie virtuele dienste moontlik maak. Baie dankie daarvoor.
Ons dink ook graag aan al die lidmate van die gemeente wat in hierdie tyd self die virus onder lede gekry het. Ons vertrou dat u almal spoedig sal herstel. Ons dink graag aan die persone wat alreeds in hierdie tydperk geliefdes, familie, vriende en andere aan die dood moes afstaan weens die virus. U word in ons gebede opgedra.
Mag u almal gesond wees en bly in hierdie tyd van beproewing. Wees veilig elke dag en mag God u een en elkeen bewaar.
Beste groete.
Martinus Gouws
No Response to “Kennisgewing aan Gemeente”